KLIMAAT: SLIMMER MET WATER IN DIE SANDVELD
Die grootste bekommernis rakende klimaatsverandering in die Sandveld is oor die gevolge as boere nie nou reeds begin om toekomsgerig op te tree nie, meen Pieter Brink, voorsitter van die Sandveldaartappelwerkgoep. Hy meen boere sal met nóg meer vernuf moet boer.
“Daarom kyk ons ál meer na die jongste tegnologie om dit wat ons het, tot die maksimum aan te wend. Ons kan nie water maak nie, maar ons kan dit slimmer gebruik.”
Een moontlikheid is om afstandwaarneming te gebruik om die volhoubaarheid van waterbronne te verseker. “Die oogmerk is om ’n digitale stelsel te ontwikkel wat boere in staat sal stel om waterbestuur te optimaliseer. Kortliks, ons wil tegnologie ontwikkel om met meer vernuf in die Sandveld te boer.”
Droogtes wat elke jaar vererger, temperature wat aanhou styg, die verskuiwing van klimaatspatrone, nóg minder reën en hoër watergebruik namate dit warmer word – dít kan die streek se voorland wees namate klimaatsverandering se greep verstewig.
“Daar is reeds tekens van hierdie veranderinge – groot, ou bome vrek en waterneigings verander. Die Verlorenvlei was byvoorbeeld in 2008-’09 laas heeltemal vol. Dit is ’n groot gevaarteken waarop boere vroegtydig moet reageer.”
Julian Conrad, hidrogeoloog en uitvoerende hoof van die grondwaterkonsultasiemaatskappy GEOSS, monitor die Sandveld se watervlakke en -gehalte al byna 30 jaar lank. Hy sê in sekere dele is daar ’n stadige daling in die gehalte van grondwater, wat geleidelik ál meer versout. Gebiede soos Wadrif naby die Wadrifpan langs die kus word erger hierdeur getref as dele anderkant Leipoldtville.
Hy sê daar is ook ’n merkbare daling in reënval sedert die droogte in 2019 gebreek is, en fonteine droog op.
Vir die meeste aartappelboere in die Sandveld is grondwater hul enigste bron van besproeiing. “As grondwatervlakke daal, beïnvloed dit die oppervlakwater, want wanneer die gebied reënwater kry, syfer dit net deur die sand. Die grondwater moet eers aangevul word sodat reënwater doeltreffend gebruik kan word.”
Die grondwatervlakke is egter ook besig om in sekere gebiede te daal. “Die waterkwessie in die Sandveld is baie delikaat. Dit is ’n fyn balans. Op lang termyn – enigiets van 30-40 jaar van nou af – gaan die daling wat ons vandag in grondwatervlakke sien, waarskynlik ’n groter impak hê.”
Hy sê daar is reeds aartappelboere wat volhoubaarder en verantwoordeliker boer en moniteringstelsels gebruik. Dié monitering behels die meting van hoofsaaklik reënval, die vloeitempo en watervlakke in boorgate, die meting van die grondwatergehalte, asook die volumes grondwater wat aan boorgate onttrek word.
Conrad raai boere aan om die ontginning van ekstra grondwater te vermy en eerder die water wat tans gebruik word, reg te bestuur en voortdurend te monitor ingevolge gemagtigde volumes.
Dié smal strook aan die Weskus, van Hopefield in die suide tot ver in die noorde by Lutzville, is bekend om sy natuurlik onvrugbare sandgrond.
Hier moet boere baie vindingryk wees om onder meer aartappels van goeie gehalte te kweek. Die Sandveld lewer van Suid-Afrika se mooiste groentegewasse en as jy reg in sand boer, kry jy skoon en mooi aartappels.
Dit is ’n unieke streek deurdat nagenoeg 5 500 ha aartappels jaarliks geplant word in grond waarvan die klei-inhoud minder as 1% en die gemiddelde pH 4,2 tot 5 is.
Maar omdat die klei-inhoud so laag en die suurinhoud so hoog is, is dit duurder as enige ander gebied in Suid-Afrika om aartappels te verbou. Hier word sowat 10% van die land se aartappels gekweek.
“Dit is nie so eenvoudig om iets te produseer in Sandveld nie. Dit is sandgrond, vandaar die streek se naam,” sê Brink. “Die omgewing is nie vergewensgesind nie en om winsgewend te boer, raak moeiliker.”
Die streek was ook tot sowat tien jaar gelede ’n groot moerprodusent, maar plantluise en daarmee saam virussiektes het toegeneem. Waar 50% van die streek se grond eens vir moerproduksie gebruik is, het dit tot ’n skamele 5% gekrimp.
Boere sukkel steeds met aartappelmot en aalwurms wat hul oeste benadeel. Gevolglik kan aartappels afgegradeer word.
“Ons het studies gedoen met die samewerking van die Noordwes-Universiteit wat toon dat aartappelmot tekens van weerstand wys teen spesifieke aktiewe bestanddele,” sê Dirk Uys, navorsingsbestuurder by Aartappels Suid-Afrika.
“Daar heers ’n debat oor of dit net insekdoders is wat daartoe bydra. Ons meen dit is ’n kombinasie van die warm somer wat die inseksiklus versnel, die weerstandsituasie, besproeiingsprobleme gekoppel aan beurtkrag wat grondkrake veroorsaak, asook die doeltreffendheid van die insekdoderbedekking.”
Aalwurms (nematodes) is ’n ingewikkelde probleem. Aanduidings dat daar druk op gewasbeskermingsprodukte is as gevolg van faktore soos die Europe Unie se Green Deal, beteken dat navorsers opnuut moet kyk na gewasbeskermingstrategieë vir aartappels.
“As voorbeeld probeer ons saam met die departement van landbou in die WesKaap die organiese inhoud van die Sandveld se grond verbeter deur verskillende bewerkingsmetodes en rotasiestelsels te evalueer. Hierdie soort proewe duur egter baie jare voor resultate gesien word,” het Uys gesê. – JOANIE BERGH