’N KLEIN VOORDEEL SE GRÓÓT VERSKIL
Dit kan partykeer ’n bietjie oorweldigend raak om in Suid-Afrika te woon. Daar’s altyd die een of ander krisis waarmee ons stoei. As dit nie verwoestende veldbrande in die noorde is wat duisende hektare in ’n maand afbrand nie, is dit vloede in die suide wat die N2 wegspoel!
En wanneer ons eers daardie onmiddellike krisisse oorkom het, wag die meer langdurige probleme. Baie daarvan die meervoudige mislukkings van ’n staat waarvan die grootste prestasie heel moontlik is om sy mense deurgaans moedeloos te hou.
Boaan die lys van klagtes troon Eskom natuurlik uit. Daardie genadelose bloedsuier wat net vanjaar 2% van ons ekonomiese groei afgeskaaf het, beraam die Suid-Afrikaanse Reserwebank.
Wat het tog gebeur met die gees van Eskom se stigter, die geniale elektriese ingenieur en nyweraar Hendrik van der Bijl? Een van Suid-Afrika se heel bestes, en ’n man wat nie net Eskom in die veertigerjare van die vorige eeu op die been gebring het nie, maar kort daarna ook Yskor. Deesdae sukkel ons om ’n vervlakste waterpyp of lendelam straatlig te herstel!
Vandag behoort Yskor aan die Indiërs, en ons het nog nooit só duur vir staal betaal nie. Vra maar enige van ons wêreldklasvervaardigers van landbouwerktuie wat hande in die hare sit oor wat hulle vir hul belangrikste inset moet hoes. Maar al die gesukkel het ons ook oorlewingsfiks gemaak, want as daar een ding is wat Suid-Afrikaners teen dié tyd besef, is dat niemand ons probleme vir ons gaan oplos nie.
So verwerk die energiekenner Anton Eberhard Eskom se data en bevind dat sonkrag wat die private sektor geïnstalleer het, van ’n skamele 983 MW in Maart laas jaar tot ’n allemintige 4 412 MW in Junie vanjaar gespring het. ’n Verstommende toename van 349%! Teen 2025, beweer die Amerikaanse beleggersbank Morgan Stanley, sal elektrisiteit wat deur die private sektor opgewek word, dié van Eskom oorskry. ’n Mens wonder wat Hendrik van der Bijl daaroor sou dink. En wat dit alles moontlik maak, is tegnologie. In dié geval sonpanele, wat oor die jare tegnologies verbeter, asook goedkoper geraak het.
In die landbou speel dieselfde storie af. Om in Suid-Afrika as boer te oorleef, waar die staat net ’n beslommernis is, infrastruktuurverval jou winsmarges opvreet, en dit ’n klomp geld kos net om veilig te kan slaap, is daar min vet oor, maar tegnologie bied darem ’n uitkoms. As daar een ding is wat ons boere terdeë verstaan, is dit die saamgestelde voordeel wat klein verbeterings oor tyd bring. Soos wanneer geskikte tegnologie ingespan word.
As jy vanjaar 1% verbeter, bou jy volgende jaar se verbetering op daardie 1%, en dan kom die volgende jaar se 1%-verbetering weer bo-op meer as die aanvanklike 1%, en só word die verbeteringskurwe elke jaar in bietjie steiler gebuig.
Elke storie in dié uitgawe van Tegnologie bevat ’n saadjie van hoe jy jou besigheid net daardie bietjie ekstra kan verbeter. Wat mettertyd ’n enorme verskil kan maak.
Geniet hom!
Chris Burgess