Sonpanele: Veel meer voordele as kragopwekking
Vanweë Suid-Afrika se ligging is elektrisiteitsopwekking met die hulp van sonpanele kostedoeltreffend. Sonpanele word egter wêreldwyd selfs nog funksioneler en veeldoeliger gemaak en gebruik — en kan selfs ’n ekstra inkomste bied.
Eskom se probleme met stabiele en bekostigbare kragvoorsiening dwing ál meer huishoudings en boere om alternatiewe kragbronne te gebruik. Boonop het mnr. André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, onlangs gewaarsku Suid-Afrika toenemend aan beurtkrag uitgelewer word weens gebrekkige opwekkingsvermoë.
Vir boere wat sonkragstelsels oorweeg, strek die voordele verder as bloot groter onafhanklikheid van Eskom. Hulle kan in die toekoms ook koolstofkrediete verdien wanneer sulke skemas algemener raak (sien die kassie “Verdien koolstofkrediete”).
Die sonpanele self kan ’n aanwins vir die boerdery wees. Deur sonpanele hoog genoeg op te rig, kan gewasse daaronder verbou word of vee kan daaronder wei of rus.
Aanvanklik is slegs genoeg spasie tussen panele gelaat om lig optimaal te absorbeer, maar nou word bogenoemde aspekte toenemend in ag geneem met panele wat onder meer verder uit mekaar geplaas word om lig onder die panele in te laat en gewasbewerking moontlik te maak. Die grondoppervlak kan dus
BO:
LINKS: vir die opwekking van elektrisiteit én vir diere en plantverbouing gebruik word.
Die voorsiening van skaduwee vertraag verdamping. Die grond onder die panele bly dus langer nat en koeler, wat die impak van hittegolwe en droogtes kan beperk.
GROOT POTENSIAAL
Die grootste voordeel van sonkrag is die onuitputbare aard daarvan. Dit is ook taamlik betroubaar en toeganklik.
Volgens die internasionale agentskap vir hernubare energie (Irena) is Afrika se potensiaal vir hernubare energie ’n duisend keer groter as sy geprojekteerde elektrisiteitsvraag teen 2040.
“Teen dan sal die bydrae van hernubare energie in Suider- en Oos-Afrika tot 63% van die totaal groei. Dit is ’n vyfde meer as in 2016.”
Tans is meer as die helfte van die vasteland se energie van fossielbrandstowwe afkomstig en 40% van alle uitvoer in Afrika is daarvan afhanklik.
Die grootste aanwins van sonkrag is ’n laer kragrekening. Klein Karoo Internasionaal op Oudtshoorn het sy olieen-waterverhittingstelsel met ’n sonpaneelaanleg vervang en ’n allemintige R413 000 in die eerste jaar bespaar nadat die Suid Afrikaanse nasionale energie-ontwikkelingsinstituut (Sanedi) en die Suider-Afrikaanse sontermiese opleiding-en-demonstrasie-inisiatief (Soltrain) kragte saamgesnoer het.
TALLE VOORDELE
In Indië word beperkte hoeveelhede grond optimaal gebruik deur sonpasal
nele op plase te installeer om benewens kragopwekking ’n kweekhuiseffek te skep en sodoende opbrengste te verhoog, volgens mnr. Erik Solheim, ’n Noorweegse vredesonderhandelaar en kampvegter vir ekologiese en volhoubare ontwikkeling.
Keniane kombineer saaiboerdery met sonpanele en “oes” sonlig só dubbeld. Sonpanele word hoog genoeg geïnstalleer sodat saailinge daaronder geplant kan word. Die panele bied beskerming teen die son se ergste hitte en die reënwater wat daarvan afloop, verskaf water aan die plante.
’n Verslag van die Wêreld- Ekonomiese Forum sê die rangskikking van ’n blok sonpanele beïnvloed grondvolhoubaarheid, grondgehalte, waterindringing, koolstofvaslegging en biodiversiteit.
“Daar is mededinging om grond wat vir voedselverskaffing gebruik word. Voltaïese landbou toon belowende resultate in Oos-Afrika. Dit gebruik die skaduwee wat die fotovoltaïese opset bied, en die reënwater wat opgevang word, skep ’n gesonder omgewing vir gewasse teenoor wanneer dit op oop lande geplant word.”
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het onlangs aangekondig dat voltaïese landbou een van die hoofpilare van Frankryk se energievoorsiening sal word. Duitsland oorweeg ook maniere om sonkrag en boerdery te integreer. Dié land spog reeds met sonpanele oor sommige wingerde om drupbesproeiing, beligting en beskerming teen weerstoestande te bied, terwyl 650 huise van krag voorsien word.
In Nederland het ’n konsortium onlangs die H2arvester bekend gestel. Dit is ’n mobiele robotiese eenheid wat sonkrag gebruik om groen waterstof te skep. Die eindproduk kan op die plaas ingespan of aan ander partye verkoop word.
In Australië word gewasse reeds sedert 1981 onder sonpanele geplant, maar die beter spasiëring daarvan kan die beskikbare weidingoppervlakte vergroot. Indien weiding korrek bestuur word, kan die grondstruktuur verbeter word om koolstof vas te vang. Dit bly die beste manier van koolstofneutralisasie.
“Hoe meer gras, hoe meer wortels, en hoe meer koolstof word uit die atmosfeer opgeneem,” sê mnr. Grant Bannister, verkoopsbestuurder van die
maatskappy Enserve Engineering. Hamilton Locke, ’n Australiese regsfirma, het onlangs gesê aardverwarming dwing die landbousektor in dié land om nuwe maniere van grondgebruik te ondersoek om sy winsgewendheid en volhoubaarheid te verseker.
Mnr. Adriaan van der Merwe, ’n SuidAfrikaner en senior vennoot by die firma, vertel van ’n sonkragaanleg in die woestynagtige Port Augusta-gebied wat 30% van Australië se tamaties voorsien danksy die slim gebruik van die panele. Die aanleg kan ook seewater ontsout en temperatuur reguleer sodat die tamaties optimaal gekweek kan word.
Volgens navorsing wat in 2019 deur die Universiteit van Arizona in Tucson, Amerika, gedoen is, kan die opbrengs van gewasse soos rissies en kersietamaties wat op droëland verbou word, twee of drie keer hoër wees onder sonpanele se beskutting.
Amerikaanse navorsers meen veral groen blaargroente en knolgroente kan by sonpaneelstrukture baat vind.
Dr. Chad Higgins, ’n wetenskaplike verbonde aan die Oregon-staatsuniversiteit se departement biologiese en ekologiese ingenieurswese, het aan die tydskrif PV gesê weiveldgrasse en gars het ook goed gevaar in hul gebied. Volgens hom is saai-, moeras- en graslande die ideale grond vir boerdery onder sonpanele. (Lees ook die kassie “Somme klop” op bl. 31.)
NOG SKAARS IN SA
Die dubbeldoelgebruik van sonpanele is nog onderbenut in Suid-Afrika.
“Ek het dit nog nie gesien nie, maar die konsep is al herkou as ’n manier van skaduweevoorsiening en moontlik haelbeskerming. Meer plaaslike navorsing en aanpassing is nodig,” sê mnr. Charl van Rooyen, vrugtekundige aan die Wes-Kaapse departement van landbou.
Mnr. Ryno Jordaan, elektriese ingenieur van New Southern Energy in Kaapstad, sê hy het ook nog nie die veeldoelige gebruik van sonpanele in SuidAfrika teëgekom nie en ook nie versoeke daarvoor gekry nie. Hy is egter oortuig dié neiging sal binne die volgende vier jaar plaaslik posvat.
“As die panele hoër geplaas moet word, sal dit ’n hoër windlas moet weerstaan, maar my gevoel is dat dit doenbaar is.”
Al is saaiboere van sonlig afhanklik, verkies veeboere en hul diere tog ’n kolletjie skaduwee. Mnr. Bertus Kruger, ’n elektrisiën van Upington, sê nog net een boer het hom al gevra om sonpanele op te sit sodat sy skape daarby baat vind.
“In Noord-Namibië soek boere hul sonpanele bokant hul skaapkrale om skaduwee te bied. Hoewel daar genoeg waarde in die meerdoelige gebruik van sonpanele is, is daar nie tans ’n behoefte daaraan in Suid-Afrika nie.”
Dr. Jan Willem Swanepoel, senior dosent en navorser in volhoubare landbou aan die Universiteit van die Vrystaat, sê vanweë Suid-Afrika se maatskaplikekonomiese probleme en “veiligheidsnette”, soos maatskaplike toelaes, is baie Suid-Afrikaners nie innoverend genoeg om hul eie inisiatief te gebruik om inkomste te genereer deur byvoorbeeld alternatiewe metodes van gewasverbouing en energie-opwekking nie.
NIE ORAL GEWENS
Ongelukkig het hierdie tipe boerdery ook nadele. Afgesien van die hoë kapitaalkoste van sonpanele is gewasse wat van volle son afhanklik is, soos sonneblomme, nie geskik om onder die panele geplant te word nie.
Meer skaduwee kan die risiko van bakterieë verhoog, wat die raklewe en vervoer van produkte beïnvloed.
Verder is die ekologiese afvalbestuur van panele problematies omdat geen sonpanele sedert verlede Augustus meer op vullisterreine toegelaat word nie. Stukkende sonpanele of panele wat verby hul gebruikstyd is (sowat twee dekades), moet na gelisensieerde sonpaneelherwinnaars versprei word.
Al verminder sonpanele kragopwekking deur die verbranding van fossielbrandstowwe, is die fabrieke wat die panele vervaardig, self vir kweekhuisgasvrystellings verantwoordelik, waarsku Swanepoel.
Hy meen wel op lang termyn sal sonpanele ’n voordeliger uitwerking hê. t