Kragtiger rekenaars, satelliete help weer beter voorspel
Rekenaars met groot reken- en bêrekapasiteit, gesofistikeerde weermodelle en satelliettegnologie help om voorspellings te vergemaklik en die akkuraatheid daarvan te verbeter. Dit het egter nog nie weervoorspellers met plaaslike kennis vervang nie.
Die ingewikkeldheid van Suid-Afrika se geografie, uiteenlopende klimaatstreke en weerstelsels kan weervoorspellers laat sweet, maar dié verskeidenheid maak ’n weervoorspeller se werk ook baie opwindend.
Me. Annette Botha, meteoroloog by Vox Weather, verduidelik Suid-Afrika se weerkompleksiteit en verskeidenheid só: Suid-Afrika word as ’n halfdroë land beskou, maar as gevolg van sy veranderlike topografie wissel die klimaat van woestyn en halfwoestyn in die droë noordweste tot subtropies en nat langs die oostelike kusgebied.
Klimaatstoestande verskil merkbaar tussen die oos- en weskus, grootliks as gevolg van die warm Agulhas-seestroom in die Indiese Oseaan en die koue Benguela-seestroom in die Atlantiese Oseaan.
Suid-Afrika het ook drie verskillende reënvalstreke, naamlik ’n winterreënstreek in die suidweste, ’n somerreënstreek oor die binneland en ooste, en ’n gebied aan die suidkus wat reg deur die jaar reën kry. Boonop word reënvalveranderlikheid in Suider-Afrika gekoppel aan wisselings in wêreldweerpatrone, soos die El Niño Suidelike Ossillasie (ENSO).
“Om al die verskillende weerpatrone en verskynsels in ag te neem, verg ’n groot mate van vaardigheid en begrip van ’n weerkundige om die weer oor die hele land te voorspel,” sê sy.
Boonop kom daar nuwe veranderlikes by. “Klimaatsverandering raak en verander ook Suid-Afrika se weerpatrone. Dele van die land ervaar toenemend ernstige droogtes, terwyl veranderinge in reënvalpatrone erge storms en kitsvloede in ander dele veroorsaak.”
Sy sê nog ’n kwessie vir weerkundiges is om ’n voorspelling wat ’n verspreiding van moontlike weerstoestande oor die land verteenwoordig, in ’n paar minute te verduidelik.
“Meteoroloë speel ’n groot rol in duidelike kommunikasie oor weerpatrone, waarskuwings en die uitwerking van klimaatsverandering op Suid-Afrika.”
KOMBINASIE VAN FAKTORE
Botha sê om ’n voorspelling te maak, gebruik meteoroloë ’n kombinasie van historiese lesings, grafiese en numeriese waarnemings, en weermodelle.
Hulle kyk ook na satellietbeelde en oppervlak- en bolugwaarnemings om beter te verstaan wat gebeur het, en wat tans oor Suid-Afrika gebeur. Temperatuur, lugdruk, humiditeit en oppervlakwindspoed moet onder meer gemeet word.
Dan word die data ingesamel en verwerk deur weermodelle vir ’n akkurate voorspelling. Elke dag word miljoene waarnemings vanaf satelliete in hierdie modelle aangeteken. Dit word gereeld bygewerk om toekomstige weervoorspelling te verbeter.
Meteoroloë kyk dan na patrone in die atmosfeer, soos sinoptiese analise, wat sekere weerkomponente, soos gebiede van hoogdruk, laagdruk en fronte, aandui.
“Voorspellers gebruik meteorologiese kundigheid om die data te ontleed en kyk na verskeie rekenaarvoorspellingsmodelle, wat verskillende scenario’s toon van hoe die weer gaan verander.”
JOU APP IS ‘VLIEGTUIG SONDER LOODS’
Mnr. Giel Hugo, weervoorspeller van Bredasdorp, sê ’n weervoorspellingsmodel kan beskryf word as ’n wiskundige simulasie van hoe die atmosfeer oor die volgende paar dae sal ontwikkel.
“Dit werk soos ’n vlugsimuleerder op ’n rekenaar. Die simuleerder sal byvoorbeeld ’n sekere spoed en hoogte aandui, en as die ‘stuurstang’ verstel word, kan die ‘wiskundige’ resultaat op die skerm gesien word.
“Die autopilot-funksie van ’n vliegtuig werk dieselfde. Dit is deesdae só gesofistikeerd dat ’n vliegtuig vir alle praktiese doeleindes kan opstyg, iewers heen vlieg en land, sonder enige inset van die vlieënier.”
Hugo meen egter passasiers sal beslis nie op ’n vliegtuig klim as daar nie ’n vlieënier aan die stuur is nie. Dit is dieselfde met weervoorspellingsmodelle.
“Sonder ’n weervoorspeller is daar niemand aan die ‘stuur’ nie. Die wiskunde by weervoorspellingsmodelle is wonderlik, maar dit kom nog nie by ’n gesoute weervoorspeller wat met kennis en baie ondervinding kan agterkom of die wiskunde vertrou kan word of nie.”
Volgens hom sal enige weervoorspeller ter wêreld kan getuig van inbellers wat na een van die baie weervoorspellings op die internet en slimfoontoepassings gekyk en gevra het of dit werklik so baie gaan reën of nie.
“Die werklikheid is dat die meeste van die weervoorspellings op die internet, indien nie almal nie, niks anders is as ’n vliegtuig wat met autopilot opstyg, vlieg en land nie.”
Hugo waarsku die uitset van weervoorspellingsmodelle is net ’n riglyn vir voorspellers.
“Kennis van die omgewing en ondervinding speel ook ’n belangrike rol in die voorspelling wat uiteindelik uitgereik word.”
Die hulpmiddels van hul vakgebied is rekenaars, satellietbeelde en, baie belangrik, werklik gemete inligting wat deur betroubare weerstasies bekom is.
Hugo sê daar is baie private weerstasies oor die wêreld heen en hul inligting is op die internet beskikbaar. Weinig daarvan is egter op die regte manier aan die omgewing blootgestel omdat die metingsinstrumente nie behoorlik opgestel is nie.
“Instrumente soos termometers moet byvoorbeeld 1,2 m van die grond op
gerig word en anemometers (windmeters) op 10 m. Verder moet daar nie bome of hoë geboue naby wees nie. Ongelukkig is dit die einste weerstasie-inligting wat gebruik word om weervoorspellers te ‘evalueer’.”
Ook Botha sê plaaslike kennis van die weer en weerpatrone is baie belangrik.
“Voordat ons die weer kan voorspel, moet ons verstaan waar dit vandaan kom, hoe dit oor Suid-Afrika beweeg en watter tipe weerstelsels die verskillende streke beïnvloed. Ons moet verstaan in watter omstandighede die stelsel sal versterk of verswak, en hoe dit op SuidAfrika se topografie reageer.”
Dit is omdat die topografie ingewikkelde wisselings toon en een van die belangrikste bepalers van daaglikse weerpatrone en klimaateienskappe is.
‘BEREKENDE RAAISKOTE’
Daar was nie altyd soveel hulpmiddels nie, en 50 jaar gelede was weervoorspellings meestal “berekende raaiskote”, meen Hugo.
In die laat 1970’s en vroeë 1980’s was daar nog nie outomatiese weerstasies nie en weervoorspellers was baie afhanklik van gemete data.
“Vars data van bemande weerstasies het per telefoon en telekslyne ingekom, waarna dit op ’n sinoptiese kaart aangebring is.
“Weervoorspellers het dan isobare (lyne van gelyke druk) op die sinoptiese kaart getrek om weerstelsels te identifiseer. Só kon bepaal word waar hoog- en laagdrukke lê. Die vorige paar dae se sinoptiese weerkaarte is dan saam met die nuwe kaart gebruik om ’n berekende raaiskoot te waag van dit wat ’n paar uur of selfs dae vooruit gaan gebeur.”
Weervoorspellings is daardie dae hoofsaaklik vir lugvaartdoeleindes gebruik. Omdat vars data elke drie uur ingekom het, kon betroubare voorspellings aan vlieëniers verskaf word.
Van die middel tot einde 1980’s is daar met gemoduleerde weervoorspellings geëksperimenteer, maar omdat rekenaars se geheue en berekeningspoed nog beperk was, was dit aanvanklik nie baie betroubaar nie.
Volgens Hugo het Suid-Afrika teen daardie tyd begin om outomatiese weerstasies op te rig, maar inligting moes steeds per telefoon of telekslyne na sentrale databanke gestuur word.
By die databanke is data met behulp van weervoorspellingsmodelle tot eweredige lengte- en breedtegraadpunte verwerk.
Die wêreld se enigste drie databanke was toe in Amerika (Kennedy), België (Brussel) en Engeland (Bracknell).
MEESTAL BETER, SOMS VERKEERD
Hedendaagse weervoorspellings is beter en akkurater as voorheen, meen Botha.
“Volgens die Wêreldmeteorologiese Organisasie (WMO) is ’n vyfdag-weervoorspelling vandag so betroubaar soos wat ’n tweedag-voorspelling 20 jaar gelede was.”
Sy skryf dit toe aan vordering met tegnologie om weerdata in te samel en die wêreld se kragtigste rekenaars.
“Die data en rekenaars produseer saam modelle wat die toestande van die atmosfeer akkurater voorspel.”
Al is “berekende raaiskote” iets van die verlede, kan weervoorspellings dikwels nog verkeerd wees, sê Botha.
“Die weer is moeilik om 100% te voorspel omdat dit ’n ingewikkelde en chaotiese stelsel is. Die weer sal in sekere opsigte onvoorspelbaar bly, veral noudat klimaatsverandering ook ’n rol speel.”
RYP EN HAEL
Maar wat van ryp en hael, daardie twee weerverskynsels wat skielik soveel skade kan aanrig? Hugo sê ryp kan taamlik akkuraat voorspel word, maar aangesien hael van die hoeveelheid stofdeel
tjies in die lug afhang, is dit baie moeiliker om te voorspel.
“’n Mens kan aanvaar dat hael altyd ’n moontlikheid is wanneer swaar donderweer voorspel word.”
Volgens Botha word hewige haelstorms nie met groot akkuraatheid voorspel nie.
“Die gebrek aan funksionele radars vir hierdie gebeurtenisse reg oor SuidAfrika kan bydra tot probleme binne die verifikasiestelsel, soos gebeurtenisse wat misgekyk word as gevolg van die funksionering van die radar.”
Wanneer hael voorspel word, soek voorspellers na diep, klam konveksie, met die volgende drie basiese bestanddele, naamlik ’n voldoende opwaartse stroom, voldoende water wat superverkoel is naby die haelsteen om groei moontlik te maak terwyl dit deur ’n opwaartse stroom beweeg, en iets, soos stof, waarop dit kan groei.
Botha sê byna alle erge donderstorms produseer waarskynlik hael, maar dikwels smelt die hael voordat dit die grond bereik.
Ryp word op dieselfde manier as dou gevorm, maar kom voor wanneer die temperatuur van die lug wat in kontak met die grond kom, onder die vriespunt van water (0 °C) is.
Die waterdamp verander direk van ’n gas na ’n vaste toestand en vorm klein yskristalle. Ryp vorm, soos dou, tydens kalm, helder nagte wanneer die grond en voorwerpe daar naby vinnig afkoel omdat die aarde se hitte opstyg.
Volgens Botha kan ligte ryp reeds in Suid-Afrika verwag word as die minimum temperatuur 3 °C bereik.
“Dit is omdat die grond op ’n stil nag gewoonlik eintlik ’n paar grade koeler is as die vlak waarop temperatuur gemeet word (1,2 m bo die grond). Dus sal die grond waarskynlik op of onder vriespunt wees.”
SA SE WEER
Om weervoorspelling vir Suid-Afrika te doen, is ingewikkeld, maar kan eenvoudiger wees as ’n mens verstaan watter invloede sekere faktore op watter stelsels het, sê Hugo.
“Eenvoudig gestel, somerweer kan as ’n termiese proses beskryf word en winterweer as ’n meganiese proses.”
Sy “erg vereenvoudigde” verduideliking vir winterweer is soos volg: Winterweer kom hoofsaaklik van koue fronte, en koue fronte word by die polêre front (die 60 °-breedtelyn) gevorm. Dit het baie te doen met uitruiling van lug tussen die ewenaar en pole. Die snelheid waarteen dit gebeur, het ’n invloed op die spoed waarteen die polêre vorteks draai. Dit het weer ’n invloed op die hoeveelheid koue fronte en hoe sterk hulle ontwikkel.
“Die spoed waarteen lug tussen die ewenaar en pole uitgeruil word, het ook ’n invloed op straalstrome in die bolug. Op hul beurt oefen hulle ’n invloed uit op weerstelsels wat in die troposfeer (die atmosfeerlaag naaste aan die aarde, 12-18 km bo die aardoppervlak) by die oppervlak ontwikkel.”
Somerweer, en spesifiek donderweer, is baie afhanklik van die posisie van die sogenoemde binnelandtrog. Die binnelandtrog is ’n strook met laer lugdruk oor die lengte van Afrika en dien as draer van vogtige, tropiese lug uit die noorde. Die posisie van die binnelandtrog word beïnvloed deur termiese afwykings ten opsigte van lengtegraad.
SEETEMPERATURE
Klimaatstoestande verskil merkbaar tussen die ooste en weste van Suid-Afrika, grootliks vanweë die warm Agulhasseestroom wat vir ’n paar maande van die jaar suidwaarts langs die Indiese Oseaan-kuslyn in die ooste af beweeg, sê Botha.
“Dit moduleer die reënval langs die ooskus en binnelandstreke van SuidAfrika deur die latente hitte van verdamping te verskaf wat nodig is vir aanlandige windstelsels om vog op te tel en oor die binneland te stoot.”
Die koue Benguela-seestroom, wat noordwaarts langs die Atlantiese Oseaan-kus in die weste beweeg, koel die weskus aansienlik af, en dra ook by tot die droogte en stabiliteit van die atmosfeer oor die westelike dele van die land. Die warm suidwaarts-vloeiende Mosambiek- en Agulhasstroom hou temperature hoër aan die ooskus. Die gevolglik warmer en minder digte lug styg makliker op, wat die toegang van vogdraende wolke vanaf die ooste vergemaklik. t
Mnr. Giel Hugo lewer ’n weervoorspellingsdiens aan boere in die Overberg en Swartland (www.overbergagri.co.za). Me. Annette Botha plaas elke dag ’n regstreekse weervoorspelling vir Suid-Afrika en Namibië op Vox Weather se Facebook-, Instagram- en Twitterrekening.
NAVRAE: Mnr. Giel Hugo, e-pos: weather@ twk.co.za; me. Annette Botha, Twitter: @voxweatherZa, web: www.voxweather. co.za