BELAS MET BUNIONS?
Bunions kan baie pyn en ongemak veroorsaak – só kan jy dit vasvat
So lank as wat sy kan onthou, was die knoppe aan die buitekant van haar groottone vir haar ’n doring in die vlees. Melani Potgieter (44)* van Kaapstad was altyd mal oor modieuse skoene, veral hoëhak-sandals, en trots op haar mooi, versorgde voete. As daai onooglike bunions tog net nie die prentjie bederf het nie . . .
Maar al was dit lelik en ongemaklik, het hierdie ma van twee aanvanklik nie gedink die knoppe is ’n ernstige probleem nie. Melani het magteloos toegekyk hoe die bunions ál groter word, en mettertyd haar groottoon-beendere inwaarts – na die middel van haar voet toe – laat groei het. Sy onthou hoe skaam sy was:“Dit was daar vir almal om te sien, reg langs my groottone.
“Een Kersfees het my ma, wat self bunions het, baie ordentlik gevra dat ek liewers kouse dra sodat my familielede nie daarin moet vaskyk nie. Wanneer my vriende plakkies gedra het, kon ek later nie meer nie, want my voete kon weens hul vreemde vorm nie in die skoene se bandjies inpas nie.”
Toe verander alles skielik ’n paar jaar gelede: Die bunions het rooi geraak en begin pyn.“Soms was dit net seer, maar ander dae kon ek eenvoudig nie my voete in enige skoene laat pas nie,” vertel sy. Op ’n dag kon sy nie meer een voet voor die ander sit sonder dat ’n steekpyn deur haar voete skiet nie, en sy het besef sy het hulp nodig.
Sy het ’n afspraak by ’n podiater (voetkundige) gemaak. Ná die ondersoek en twee X-strale, het sy geweet: As sy ooit weer normaal en sonder pyn wil loop, is voetchirurgie die enigste uitweg.
En sowaar, sedert die operasie is haar voetprobleme iets van die verlede.“Ek spog nou graag met my voete en dra plakkies sonder ’n enkele knop in sig!
“Dis wonderlik om weer soos ’n normale mens te staan, loop en dans. En my voete skrik nie meer die skoonheidsterapeut af wanneer ek vir ’n pedikuur gaan nie. Ek het nét twee voete, en ek pas hulle nou mooi op.”
WAT IS BUNIONS?
Knokkeleelte (bunions) is nie net ’n kosmetiese probleem nie; dit kan ondraaglik pynlik wees. En al ís dit ’n algemene toestand, is dit iets waaroor mense selde praat.
’n Bunion is ’n misvormdheid van die lit wat die groottoon aan die voet verbind. Die mediese term daarvoor is hallux valgus – dis Latyns vir groottoon (hallux) en wansporing (valgus).
Die groottoon buig dikwels in die rigting van die ander tone, en die lit druk buitentoe en vorm ’n harde knop langs die groottoon aan die buitekant van die voet. Die weefsel om die knokkeltoon kan ook rooi en seer word, sê Christian Olivier, ’n podiater van Kaapstad.
Cherie Viljoen, ’n Johannesburgse podiater, sê knokkels kan verskeie oorsake hê. Oorerwing en skoene wat verkeerd sit, is die algemeenste.
Sommige mense word weer gebore met ’n genetiese beenprobleem of seningmisvormdheid wat hulle later meer tot bunions geneig maak; dus kan hulle niks doen om dié probleem vry te spring nie, sê dr. Jason Crane, ’n ortopediese chirurg van Kaapstad.
Tog kan mense wat nié die genetiese geneigdheid het nie, ook knokkeltone ontwikkel as hulle gereeld skoene dra wat styf of verkeerd pas en onnodige drukking op die voete veroorsaak.
Mense wat in beroepe is waar hulle baie tyd op hul voete deurbring, soos
onderwysers d en verpleegpersoneel, l l is i vatbaarder daarvoor.
Vroue kan, wanneer hulle swanger is, bunions of ander voetkwale ontwikkel weens hormoonveranderings wat ligamente verslap en hul voete platter maak. Bunions word ook verbind met artritis, ’n toestand wat die kraakbeen in gewrigte aantas.
’n Bunion kan oor jare ontwikkel, óf vinnig ontstaan – selfs binne weke, sê Christian. As jy eers een het, is dit blywend. Dit kan groter word, maar dit kan nie vanself verdwyn of kleiner word nie. Die enigste manier om daarvan ontslae te raak is deur ’n chirurgiese regstelling.
Dis wel moontlik om een te hê sonder dat jy pyn ervaar.“Dit kan pynloos wees, of net af en toe pyn weens skoene wat verkeerd pas,”verduidelik Christian. “Skoene wat die beweging van die tone inperk, is die grootste oorsaak van pyn. Dié skoene irriteer die sagte weefsel om die eelt en veroorsaak inflammasie, wat die vel rooi, blink en warm maak. Die pyn wat jy voel, is nie in die been nie, maar weens die inflammasie in die sagte weefsel.”
Pyn en ongemak kan dit later vir jou onmoontlik maak om smal en hakkieskoene te dra, sê Jason. Dit kan selfs só seer raak dat jy byna nie kan loop nie, soos met Melani gebeur het. ’n Podiater kan vir jou die regte skoene aanbeveel sodat die bunion nie vererger nie en kan jou help met pynverligting. Maar as dít nie help nie, is ’n operasie die enigste uitweg, sê Christian.
WANNEER OM HULPTE KRY
“Sodra jy ’n groot knop aan jou groottoon sien, moet jy ’n podiater gaan sien, ongeag of jy pyn ervaar of nie.
Die podiater sal d die oorsaak ka kan vasstel en ’n behandeli lingsplan v voorstel,” sê C Cherie. “Behandelin ling begin met gemaklike skoen skoene. Dit sal nie die grootte g van die bunion verander v nie, i maar omdat d t di dit die drukking op die voetbeentjies verminder, kan dit die pyn verlig en ook keer dat die knokkeltone vererger,”sê Jason.“In die vroeë fase kan anti-inflammatoriese medisyne en soms ’n kortisoon-inspuiting pynverligting bring.” Podiatriese behandeling behels ook die gebruik van ortopediese toestelle wat die drukking op die knop verminder en die pyn verlig, sê Cherie.
As geen behandeling help nie en ’n operasie nodig is, sal die podiater jou na ’n chirurg verwys.“As die bunion onophoudelik begin pyn, die beweging van jou groottoon beperk word en jy nie eens meer breë, gemaklike skoene kan dra nie, moet jy chirurgie oorweeg. Dit is nooit te laat daarvoor nie,”sê Jason.
DIE OPERASIE
Enige grootte knokkeleelt kan suksesvol verwyder word. Verskillende prosedures kan ingespan word. Soms word ’n deel van die been verwyder om die groottoon reguit te strek, verduidelik Christian.
In die meeste gevalle word nie net die groottoon geopereer nie; ook die ander tone en bene van die voet word met ’n ingewikkelde prosedure gerekonstrueer.
Dié operasies is baie pynlik, waarsku hy.“Soms opereer chirurge aan albei voete gelyktydig, want dikwels kom ’n pasiënt weens die kwaai pyn nie terug vir chirurgie aan die tweede voet nie.
“Daar is ook ’n lang herstelproses wat soms tussen drie en ses maande duur. ’n Pasiënt kan ’n paar weke [ses tot 12 weke] ná die operasie nie hul voet of voete gebruik nie; daarom moet dit goed beplan word. Selfs al ís die operasie ’n sukses, is daar altyd ’n kans dat die eelte kan terugkeer.”
Melani beaam die pyn en ongerief.“As jy besluit om te opereer, moet jy weet dit is ’n lang en pynlike proses. Ek het eers aan my regter-, en vier weke later aan my linkervoet laat opereer. Drie maande het dus verloop van die eerste operasie tot my steke uitgehaal is,”sê sy.
Daar is baie suksesverhale van operasies soos dié van Melani, maar kenners meen dat dit jou laaste uitweg moet wees. Jason erken chirurgie het ’n slegte reputasie gekry weens mislukte prosedures.“Maar as dit deur ’n ervare voetchirurg met ’n rekord van suksesvolle operasies gedoen word, kan die uiteinde lewensveranderend wees,” sê hy.“As jy twyfel, kan jy ’n tweede mening kry.”
Al kan baie pasiënte volgens hom ná chirurgie weer hul hakskoene dra, is Melani so verlig oor haar nuwe voete dat sy dit nie wil waag nie:“Ek het my hoëhakke vir eers weggebêre.” *Skuilnaam