GEMAKLIK IN HAAR EIE VEL
Daar is brains agter dié beauty en sy gebruik nou haar platform om vroue oor hul regte te bemagtig
Dis moeilik om te glo as jy na die beeldskone Bryoni Govender (27) kyk, dat daar ’n tyd in haar lewe was toe sy allesbehalwe gemaklik in haar vel was. Tog het dié jong vrou van Kempton Park, wat laas jaar as die naaswenner in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gekroon is, en die land onlangs by die Mej. Heelal-kompetisie in El Salvador verteenwoordig het, ’n groot deel van haar lewe minderwaardig gevoel in ’n wêreld waar ’n donkerder vel nie altyd as die mooiste beskou is nie.
Bryoni het tydens die 72ste Mej. Heelalkompetisie uiteindelik deurgedring tot die top 20 uit die 84 deelnemers en haar veldtog, Her Way Out (wat daarop gemik is om vroue oor hul regte op te voed), het internasionale aandag gekry toe sy ’n plek onder die top 10-finaliste van die Voice for Change-videokompetisie logeslaan het.
Dié talentvolle dogter van Deven en Shireen Govender het ’n lang pad gekom op ’n jong ouderdom – en alles net omdat sy besluit het om in haarself te glo.
MEER AS VEL-DIEP
Bryoni het aan die Oos-Rand van Johannesburg grootgeword. Sy is as kind blootgestel aan diversiteit wat haar toegelaat het om oopkop te wees.“Dit het my ook in my volwasse lewe gehelp om mense te aanvaar vir wie hulle is,”vertel sy.
Tog het sy as kind dit nie sélf ervaar nie. Sy is altyd bewus gemaak van haar donker vel, vertel Bryoni. Maar vandag is dit dié einste donker vel wat sy nou haar superpower noem.“Die res van my familie is van KwaZulu-Natal en ons het gereeld soontoe gegaan. Dis hier waar ek bewus gemaak is van my donker vel.
“Dit het my vir ’n lang tyd onseker laat voel oor my velkleur en dis iets wat ek gehaat het. Dit was altyd vir my baie moeilik om mense wat soos ek lyk, te sien. Veral met kompetisies soos Mej. Heelal en
Mej. Suid-Afrika.”
Toe kom die Netflix-reeks
Bridgerton en skielik was die Britse-aktrise van Indiër-afkoms Simone Ashley (wat in 2022 haar debuut as
Lady Kate Sharma gemaak het) op die voorgrond met haar pragtige donker vel.
Dit het
Bryoni selfvertroue gegee.
“Ek het gevoel die aktrise verteenwoordig soveel vroue wat nie net Indiër is nie, maar wat soos sy lyk en wat uit minderheidsgroepe kom.
Ek het opgemerk sy is so gemaklik in haar vel en ek het besef dat hierdie onsekerheid iets is wat ek op myself geplaas het deur ander se optrede.
“Maar ek het ook besluit ek gaan nie daardie krag aan enigiemand anders gee nie en ek het begin om my selfvertroue op te bou. Ek het aan skoonheids
kompetisies begin deelneem en modelwerk gedoen, en só het ek gemaklik geraak in my eie vel.”
Bryoni vertel sy het boodskappe gekry van verskeie minderheidsgroepe omdat sy iets verteenwoordig waaroor daar nie sommer gepraat word nie – colourism. Dis daardie amper onbewustelike onderdrukking in ’n swart of bruin gemeenskap van dié met ’n donkerder vel. Die woordelose“ooreenkoms”hier is dat ’n ligter vel as beter of mooier beskou word.
“Mense het na my begin uitreik en gesê net my teenwoordigheid in die kompetisie het hulle selfvertroue gegee en hul so gemaklik in hul outentieke velkleur laat voel. Ek was so trots daarop, want as kind het ek gevoel my velkleur het my beperk, en nou is dit my trots, my sterkpunt en my superpower.”
Vir Bryoni sal die Mej. Heelalkompetisie altyd ’n hoogtepunt in haar lewe bly. “Die hele ervaring was vir my soos ’n droom! Ons is na El Salvador in Suid-Amerika. Dis ’n klein land. Ons is soos koninklikes behandel deur die Miss Universe-organisasie en die mense van daardie land. Die inwoners was so trots en bly om ons te ontvang en te verwelkom. Dit was ’n ongelooflike ervaring om dié land te verken.”
En die deelnemers vanoor die wêreld was besonderse vroue, vertel sy.“Ek sal hulle altyd as goeie vriende beskou. Dit was ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring vir my. Ek het soveel pret gehad en ek het so baie nuwe vriende bygekry. Dit was regtig een vir die boeke.”
Bryoni het ’n regsgraad van die Universiteit van Johannesburg agter haar naam en span nou haar internasionale platform as skoonheidskoningin en haar regskennis in om hulpelose vroue te help en ’n ambassadeur vir vroueregte te wees. Haar hoofdoel is om vroue wys te maak oor hul regte.
Sy en die internasionale regsfirma Norton Rose Fulbright span kragte saam op, ondermeer, toegang tot geregtigheid s projekte. Sy’s ook aangestel as ambassadeur vir die nie-winsgedrewe organisasie Lawyers Against Abuse, wat toegang tot justice vir slagoffers van geslag s gebaseerde geweld wil verseker deur regs- en psigososiale ondersteuning, en deur gemeenskappe te bemagtig en nasionale owerhede te betrek.
“My droom is om die projek regoor SA bereikbaar te maak,”vertel sy.
GROOTSTE ONDERSTEUNER
Vir al die ouens daarbuite wat ’n crush op die beeldskone, borrelende Bryoni het is dit neusie verby, want ’n baie bekende sokkerman het reeds haar hart gewen.
Die voormalige Kaizer Chiefs-goalie Samir Nurković (31) en Bryoni is nou al drie jaar saam.“Ons het mekaar in 2020 begin sien en hy is een van my grootste ondersteuners. Ons is baie gelukkig”sê sy.
Samir is beslis baie ondersteunend, want hy was reg voor in die gehoor toe sy “Queen”, soos hy haar noem, in Augustus as die naaswenner gekroon is in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie.
Bryoni is goed bewus daarvan dat veral baie jong meisies haar as ’n rolmodel sien, en sy moedig hulle aan om styf vas te klou aan die doelwıtte wat hulle vir hulself gestel het.“Hou vas aan daardie droom en glo in jouself met jou hele wese. Ek onthou tydens die Mej. Suid
Afrika-kompetisie het ek soggens wakker geword en ek sou na myself in die spieël kyk en sê ek gaan Mej. Heelal toe. Ek moes my afsny van wat mense van my sê, want daar sal altyd mense wees wat nie in jou glo nie. Maar as jy daarop fokus, gaan jy nooit jou doelwitte bereik nie.
“Maak nie saak watter doelwitte jy vır jouself het nie, maak net seker jy glo dit met jou hele hart, en níks sal in jou pad staan nie.”